Wat om te doen wanneer iemand oorlede is
Skakel ons: 011 425 0276 / 071 470 5221
Sterftes word in twee kategorieë geklassifiseer: natuurlike sterftes en onnatuurlike sterftes. Die prosedure wat met elkeen gevolg word, verskil.
Natuurlike sterftes vind plaas wanneer 'n persoon sterf as gevolg van siekte, 'n mediese toestand, of ouderdom, hetsy by die huis of in 'n verpleegingsfasiliteit.
- 'n Paramedikus, maar nie die SAPD nie, moet na die plek waar die sterfte plaasgevind het, ontbied word.
- Stel East Rand Funeral Directors onmiddellik in kennis, waarna 'n opgeleide personeelid gestuur sal word om u te help met alle nodige inligting en advies.
- Die paramedikus sal die sterfte verklaar en die verklaring aan die personeelid van East Rand Funeral Directors oorhandig, wat die oorledene na ons private fasiliteit sal vervoer om na omgesien te word.
- In 'n verpleegingsfasiliteit, soos 'n hospitaal of 'n tehuis vir bejaardes, moet die verklaring deur 'n mediese praktisyn uitgereik word; daar is dus geen rede om ’n paramedikus te kontak nie. Die mediese praktisyn sal East Rand Funeral Directors van die nodige nodige dokumentasie voorsien om die sterfte by die Departement van Binnelandse Sake te registreer en alle relevande dokumente te bekom.
- Dit is belangrik dat 'n mediese praktisyn die mediese geskiedenis van die oorledene verstaan en dat hy of sy die oorledene binne die voorafgaande 3 maande gesien het; indien nie, sal die dokter nie die nodige dokumentasie kan voltooi nie en dit sal veroorsaak dat die proses om die nodige dienste te lewer vertraag word. East Rand Funeral Directors sal dan ’n private nadoodse ondersoek deur die distriksgeneesheer laat doen, wat dan die nodige dokumente sal uitreik om ons in staat te stel om die sterfte by die Departement van Binnelandse Sake te registreer. Hierdie nadoodse ondersoek sal op koste van die naasbestaandes wees.
Onnatuurlike Sterftes vind plaas as gevolg van ’n ongeluk, misdaad, selfdood, of verdagte omstandighede. Pediatriese sterftes, van 16 jaar en jonger, word ook as onnatuurlik geklassifiseer.
- 'n Paramedikus en die SAPD moet na die plek waar die sterfte plaasgevind het, ontbied word. Die paramedikus sal die sterfte verklaar en die verklaring aan die SAPD oorhandig, wat dan ’n ondersoek moet laat doen.
- Die oorledene sal deur die SAPD na die naaste Staatsforensiese Fasiliteit (lykshuis) geneem word, waar ’n nadoodse ondersoek die volgende dag gedoen sal word (neem asseblief kennis dat hierdie prosedure somtyds vertraag word, wat buite ons beheer is).
- Stel East Rand Funeral Directors onmiddellik van die sterfte in kennis, en ons sal ’n verteenwoordiger aanwys om u die volgende dag fisies by te staan met die identifisering van die oorledene, voor die inhaal van die oorledene.
- Die patoloog wat die nadoodse ondersoek uitvoer, sal East Rand Funeral Directors van al die nodige dokumentasie voorsien om die sterfte by die Departement van Binnelandse Sake te registreer; daarom is dit nie nodig om ’n ander mediese praktisyn te betrek nie..
Geen persoon kan beswaar maak teen ’n nadoodse ondersoek wat gedoen word nie.