East Rand Funeral Directors
GEESTELIKE EN EMOSIONELE NOTAS

Skuldgevoelens

Rou is hartseer oor iets wat gebeur het wat nie reggestel kan word nie. Die dood maak dinge onherstelbaar. Na die dood kan niemand meer om vergifnis gevra word nie. Maar Jesus Christus is terselfdertyd by ons én by ons oorlede geliefde. Hy is ook die Een wat vergewe.

'n Voorstel is om alles wat op jou hart is in 'n brief te skryf. Lees dit dan vir die Here. Hy sal die brief dan neem, skeur jy dit dan op en verbrand dit, Jesus sal dit dan oordra aan jou geliefde. Die geliefde sal weet dat sy aardse familie, met al hulle foute en tekortkominge reg oor die grense van lewe en dood hom of haar lief het.

Om ander te troos

Familie, vriende en kollegas wat graag wil ondersteun voel soms onseker en onbevoegd vir hierdie taak. Sommige mense het eenvoudig net nie die vermoë om hulle innerlike gevoelens in woorde uit te druk nie.

Troos sonder woorde is egter kosbaar. Bid vir hulle wat seer het. Vat hande wanneer julle bid, dit is God se handdruk. Wees net daar en luister. Bring iets om te eet. Antwoord die foon. Moenie die kinders vergeet nie!
Ons as helpers kan slegs God se medisyne toedien wat God vir ons gegee het. Daar is niks wat gesê kan word op die grens tussen lewe en dood nie.

Gedagtes oor selfmoord

Die persepsie dat mense wat selfmoord pleeg nie hemel toe gaan nie is verkeerd. Verwys weer na (Rom. 8:38-39). Daar is ook geen veroordeling nie. “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie” (Rom. 8:1).

Wanneer die bedoeling om selfmoord te pleeg aanwesig is word elke gebeurtenis geïnterpreteer as bevestiging dat dit die regte en beste besluit is. Sy of haar gedagtes is op daardie stadium so verwring dat dit as psigoties geklassifiseer kan word. Kontak met die werklikheid is totaal verlore. Die lewe het vir hulle so donker en moeilik geraak dat selfmoord die enigste logiese uitkoms word.

Dink bietjie na oor die volgende – alvorens 'n wêreldse regter 'n persoon kan veroordeel moet hy eers seker maak dat daardie persoon verantwoordelik gehou kan word vir sy of haar dade. Somtyds word so 'n persoon eers gestuur vir psigiatriese evaluasie om te bevestig dat hy of sy wel aanspreeklik gehou kan word vir die oortreding wat begaan is. Dit word toerekeningsvatbaarheid genoem.

Hoeveel te meer sal ons Here Jesus Christus nie seker maak dat ons toerekeningsvatbaar vir ons dade is voordat Hy 'n oordeel oor ons vel nie?

God word menigmale verkeerdelik gesien as 'n polisieman. Hy wag nie net vir 'n oomblik van swakheid waarin ons 'n fout begaan sodat Hy ons kan uitvang en in die hel gooi nie. “God is liefde” (1 Joh. 4:16).

Daar is 'n siekte wat mense bedreig wat nie hulle liggame verteer nie, maar hulle wil om te leef wegneem. Depressie. Dit is 'n siekte wat jou in donkerte laat verdrink. Dit vervreem jou van mense. Dit maak jou magteloos. Dit maak die mense wat wil help magteloos want hulle kan slegs van buite help terwyl hierdie vyand van binne kom.

Depressie is 'n siekte tot die dood! Dit is teenwoordig by 75% van alle mense wat selfmoord pleeg.
 
 
 
Copyright. ©  East Rand Funeral Directors. All rights reserved.   Privacy Policy     |     Website Terms of Use
Back Index Next Image Map