East Rand Funeral Directors
GEESTELIKE EN EMOSIONELE NOTAS

INHOUD:


Wat nou gemaak?

Eerstens moet die dood aanvaar word. Gaan kyk na die ligaam of gaan ten minste na die toneel waar die sterfte plaasgevind het. Praat, moenie die onderwerp vermy nie.

Reël die begrafnis. Dit is een van die mees helendste ervarings gedurende die rou proses. Die Almagtige Vader gee aan gelowiges die voorreg om hierdie moeilike finale treë in Sy teenwoordigheid, omring deur Sy familie te gee. Die begrafnis is iets waaraan die hele familie kan deelneem en sodoende fisies iets vir die oorlede familielid kan doen.

Na die begrafnis

Na die begrafnis kom 'n swaar stilte, die lewe gaan aan sonder ons geliefde. Gebruik hierdie stiltes om te reflekteer, moenie te gou te besig raak nie. Laat Jesus toe om die emosionele en geestelike storm wat binne jou woed te kalmeer. “Toe staan Hy op, bestraf die wind en sê vir die see: Hou op! Bedaar! Die wind het gaan lê en daar het 'n groot stilte gekom” (Mark. 4:39).

Die rouproses is 'n baie eensame pad en uniek vir elke mens.

Vermy die volgende uiterstes:
  • Geen emosie (“cowboys don't cry”) wat maklik kan verander in agressie, depressie of selfs 'n hartaanval veroorsaak. Dit vervreem jou van ander mense en hulle het nie die moed om hulle seer met jou te deel nie.
  • Dit is ook verlammend om aan te hou fokus op die pyn.

Familielede maak die fout om te dink hulle “spaar” mekaar die pyn deur nie van die oorledene te praat nie. Maak seker elkeen het voldoende inligting en begrip ten opsigte van elke aspek wat teenwoordig was, en 'n bydrae gelewer het tot die sterfte, soos depressie, selfmoord, hoe die ongeluk gebeur het of van die siekte. Voldoende inligting gee 'n mate van beheer wat op sy beurt weer 'n tree in die rigting van genesing is. Elkeen moet besef dat hulle intense en uiterste emosies gaan ervaar.

‘n Probleem met “sterk mense” is dat:
  • Wanneer hulle praat gaan alles goed.
  • Hulle nie hulle emosies wys nie, behalwe agressie.
  • Hulle alleen gelaat wil wees.

Die dilemma met “sterk mense” is dat hulle, hulle metgeselle en hulle kinders hierdie moeilike tye alleen moet ervaar. Sommige mans dink hulle sal op hulle eie regkom maar onthou dat 'n man wat huil, weet hy is nie superman nie. Hy weet hy bly 'n kind, 'n seun van ons Hemelse Vader. En 'n seun mag maar op sy Vader se skoot sit om vasgehou te word.
 
 
Copyright. ©  East Rand Funeral Directors. All rights reserved.   Privacy Policy     |     Website Terms of Use
Back Index Next Image Map