East Rand Funeral Directors
 
 
 
Copyright. ©  East Rand Funeral Directors. All rights reserved.   Privacy Policy     |     Website Terms of Use
Back Index Next Image Map
GEESTELIKE EN EMOSIONELE NOTAS

Gedagtes oor die dood van kinders

Huil eerder oor die kort lewe van 'n kind as wat jou kind nooit daar was nie. Besef watter voorreg dit was om hom of haar te kon ken en watter groot seën dit van God op julle lewens was. “Kinders is geskenke van die Here, kinders word deur Hom gegee” (Psalm 127:3).

Moenie toelaat dat die een leë sitplek in die motor nou meer aandag geniet as die drie ander sitplekke, met kinders in, nie. Moet ook nie toelaat dat kinders 'n sussie of boetie verloor en nog 'n ouer ook nie. Dit gebeur maklik wanneer 'n ouer so intens fokus op die rou en pyn van die verlies van 'n kind dat die ander kinders vergete bly. 'n Kind kan nie terugkeer na waar sy ouers en familie is nie, maar hulle kan gaan na waar hy of sy is. Ouers en familie moet 'n leefstyl handhaaf met die doel om eendag by hulle kind aan te sluit. Dit is slegs die genade van die Here wanneer twee ouers na aan mekaar kan bly gedurende hierdie reis. Maak beurte om mekaar se helpers te wees.

Die wond wat verlies veroorsaak

Hierdie wond is emosioneel en fisies. Beide het behandeling nodig om gesond te word. Mense neem gewoonlik die kortste roete na herstel wat ook die langste is. Hulle verkies om die onderwerp en herinneringe te vermy. Hoe meer jy egter oor die onderwerp dink en praat hoe vinniger kom die herstel.

Dink daarom aan die volgende voorstelle:
  • Plant 'n blombedding want blomme laat die herstel simbolies blom.
  • Brand 'n gegeurde kers want die geur verplaas simbolies die verlange.
  • Brand 'n groot kers tydens 'n verjaardag of Kersfees want dit is simbolies van sy of haar teenwoordigheid.

Omdat 'n wond tyd nodig het om gesond te word moet jy die besluit neem, een dag op 'n slag! Ons Here is 'n God van genesing. Stap hierdie pad saam met Hom. “Want dit is Ek, die Here, wat julle gesond hou” (Eks. 15:26b).

Geestelike riglyne

  • Ontwikkel 'n betekenisvolle gebedslewe. Praat met God. Deel met Hom jou gedagtes en gevoelens. God belowe ons Hy sal luister. “Hou valsheid ver van my af, wees my genadig, leer my U wet” (Psalm 119:29) en “Wanneer hy My aanroep, sal Ek sy gebed verhoor; in sy nood sal Ek by hom wees, ek sal hom red en hom in sy eer herstel” (Psalm 91:15).
  • Ontwikkel 'n positiewe, praktiese perspektief oor wat gebeur het. Probeer verstaan dat God 'n groter plan vir jou het, alhoewel dit seer is en jy dit nie altyd verstaan nie. “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom lief het, dié wat volgens sy besluit geroep is” (Rom. 8:28).
  • “My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is My optrede verhewe bo julle optrede en My gedagtes bo julle gedagtes (Jes. 55:8&9). Wees versigtig om nie in frustrasie, woede of agressie verstrengel te raak, wat meetsal deur ons emosies beheer word, nie. Om positief te wees en die situasie in perspektief te plaas sal jou na oorwinning lei, selfs in die donkerste vallei en diepste verlies. “Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig” (Fil. 4:8).
  • Maak vrede met die verlede. Vra om vergifnis vir jou foute en vergewe die foute van ander. Gryp die huidige en toekomstige planne wat God vir jou het aan. “Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid” (1 Joh. 1:9).
  • Maak die Skrif en beloftes daarin jou eie. God skep die heelal deur net 'n woord te spreek! Sy Woord is kragtig genoeg om nuwe lewe te gee en weer geluk in jou hart te skep. “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en 'n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk” (2 Tim. 3 :16 &17).
  • God wil jou vertroos en genees. “Hy genees die gebrokenes van hart en verbind hulle wonde” (Psalm 147:3).
  • Sien uit na die ewigheid. “Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig” (2 Kor. 4:18).